Resepteboek – Ram se Kersgeskenk aan R’fontein

Annie Nolan en Marlie Potgieter het die projek deurgevoer.

In 2017 het Laerskool Randfontein verskeie hoogtes bereik en boonop hul 80ste bestaansjaar gevier. Dit is ‘n groot mylpaal wat met ‘n spesiale boek herdenk moes word.

Volgens skoolwoordvoerder Annie Nolan het die skool met sy 75ste verjaarsdag ‘n pragtige Gedenkblad uitgereik. Vanjaar se feesjaarkomitee onder leiding van die hoof, Leon Haupt, het besluit om met die 80ste verjaarsdag ‘n resepteboek uit te gee.

Die personeel is gevra om hul familie se gunsteling en beste resepte in die boek te laat opneem. Almal het hul kombuise oopgestel en hul bobaas kookvernuf ten toon gestel.

“Dit is reeds ‘n jarelange droom van Leon om ‘n onderwysersresepteboek vir ‘n spesiale geleentheid beskikbaar te stel,” het Annie gesê.

Annie, met die hulp van Marlie Potgieter, het die projek se sukses met kreatiwiteit en ywer verseker. Dit was vir hulle ‘n groot voorreg om met iemand se droom vertrou te word en te sorg dat dit ‘flatervry’ is.

Soos koskenners het hul as organiseerders proe-proe idees uitgeruil, fyngekou en weer besin voor hulle besluit het om iets op te dis. Die voorsmakie (fotosessie) is die lig laat sien, om aan die einde met onderskeiding ‘n meesterstuk van fyngebak voor te sit.

“Die Ram-onderwysers leer nie net kinders nie maar kan die ABC van voorgereg tot nagereg met passie uitvoer, want ons Rammie-onnies se passie is natuurlik kinders, kos en kuier,” het Annie gesê.

Een van die grootste besluite was dat die resepteboek die skool en sy leerlinge, onderwysers en ouers van die laaste 80 jaar moet vereer. Alle aspekte van die boek is deur voormalige en huidige Rammies behartig.

Die RAMelicious-resepteboek bevat 52 beproefde en geliefde resepte, wat deur 53 personeellede bygedra is. Daar is ‘n wye verskeidenheid resepte vir elke moontlike geleentheid wat jy in ‘n skooljaar kan teëkom – of jy fyngebak vir ‘n belangrike gas wil voorsit, en of jy iets voor ‘n groot wedloop vir die atleet in die gesin moet maak, die resepteboek bevat die resepte daarvoor.

Laerskool Randfontein se geskiedkundige hoogtepunte oor die afgelope 80 jaar is in die resepteboek vervat. Elke resep het ‘n stukkie geskiedenis en foto’s daarby.

RAMelicious is ‘n praktiese, geskiedkundige en omvattende aandenkingsresepteboek en verdien ‘n spesiale plekkie op elke Rammie, oud-Rammie en vriende van Ram se boekrak.

Daar is nog enkele resepteboeke beskikbaar. Kontak vir Annie Nolan by [email protected].

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

  AUTHOR
Nadine Mare
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top